Windhoek akkommodasie View over Windhoek namibia
ANDER NAMIBIë LODGES
STUUR EPOS
TUISBLAD
VOERTUIG HUUR
ENGLISH
Tel. +27 (0) 21 855 0395

WINDHOEK AKKOMMODASIE

Kliek eenvoudig op die foto om meer inligting oor die onderskeie hotel in Windhoek, selfsorg- akkommodasie en lodge te kry, of om ‘n bespreking te maak.

 
Windhoek Buiteklub Windhoek Hotel en Country Club.
WINDHOEK COUNTRY CLUB & CASINO - was Namibië se eerste vyfsterhotel. Hierdie hotel in Windhoek verskaf uitstekende kamers, kos, veilige parkering en 18-putjie gholfbaan en casino. Die Windhoek Country Club is, soos die naam aandui, meer as net ‘n hotel. Dit is ‘n wêreldklas oord in die hoofstad van Namibië.
Safari Hotel Windhoek

SAFARI HOTEL - Betree die warmte van ongeëwenaarde Namibiese gasvryheid en kosmopolitiese flair wat diens betref – dis die 4-ster Safari Court Hotel en Konferensiesentrum en die 3-ster Hotel Safari. Die Safari Hotel is naby Windhoek se Eros Lughawe en in die hartjie van die stad.

Arebbush Self-catering accommodation Arebbush Travel Lodge

AREBBUSH LODGE selfsorg- en Hotel-verblyf in Windhoek is die vanselfsprekende keuse vir gesinne op selfbestuur-vakansies. Arebbush Lodge is net suid van Windhoek se sentrale sakekern.

Monteiro Windhoek
MONTEIRO verskaf baie gerieflike selfsorg-akkommodasie 10 km suid van die hoofstad. Monteiro is ideaal vir gesinne wat Windhoek wil besoek as deel van hul vakansie in Namibië.

Windhoek - Hoofstad van Namibië

Windhoek is die hoofstad van Namibië en is min of meer in die middelpunt van die land geleë. Windhoek is vernoem na ‘n plaas in die Wes-Kaap. Die oorspronklike naam was egter Winterhoek.

Die hoofstad is Namibië se vinnigste groeiende dorp en die enigste ware stad in hierdie uitgestrekte land. Windhoek word omring deur die heuwels van die Khomas Hooglande.

Windhoek is op die vloer en teen die helling van die vallei gebou en is dus alles behalwe ‘n plat dorp. Daar is uitkykpunte en die stad se voorkoms is beslis nie eentonig nie.

Die hoofstraat, wat van noord na suid loop, is “Independence Avenue” (voorheen Kaiserstraat). Die straat het moderne kommersiële geboue en hier en daar interessante oorblyfsels van Duitse koloniale argitektuur. Die munisipale gebou is ‘n indrukwekkende struktuur wat op hierdie straat uitkyk. In die blombeddings voor die gebou is ‘n standbeeld van Majoor Curt von Francois, wat deur ‘n Suid-Afrikaanse kunstenaar, Hennie Potgieter, gemaak is. Hierdie standbeeld van die vader van die moderne Windhoek is op 19 Oktober 1965, gedurende die stad se 75ste verjaarsdag, onthul.

Verder noord in “Independence Avenue” is ‘n klein parkie, voorheen die dieretuin. Dit is ‘n aangename gebied vol grasperke, bome en blomme reg in die hartjie van die stad. In hierdie tuin is ‘n gedenkteken wat op 5 April 1897 opgerig is ter nagedagtenis van die lede van die Duitse “Schutztruppe” wat tydens die oorlog met die Namas, onder leiding van Hendrik Witbooi, omgekom het. Daar is ook ‘n uitstalling van olifantfossiele wat uit die modder om een van die warmbronne van Windhoek gehaal is, asook ‘n versameling brokstukke van ‘n meteoriet wat hier aangetref is.

Die “Alte Feste” staan steeds op ‘n heuwel wat oor die stad uitkyk. Die gebou is nou ‘n museum wat ‘n interessante versameling foto’s en items wat met die Duitse administrasie verband hou, bevat. Buite die museum staan iets wat treinentoesiaste sal betower: ‘n nouspoor trein, volledig met lokomotief en trokke. Dit lyk asof dit gereed staan om die tog van 373 km oor die ruwe berge en deur die Namib-woestyn van Windhoek na Swakopmund aan te pak – ‘n reis wat hierdie klein treintjie baie gedurende sy diensjare gemaak het.

Voor die Alte Feste staan die gedenkteken ter ere van die Ruiter, ‘n pragtige beeld van ‘n perd wat deur Adolf  Kurle van Berlyn gemaak is. Dit is op 27 Januarie 1912 op ‘n militêre parade ter ere van die Keiser se verjaarsdag onthul. Die gedenkteken is ter ere van die manne van die Duitse koloniale mag wat gedurende die Herero- en Nama-oorloë tussen 1904 en 1908 gesterf het. Die Alte Feste museum is Maandae tot Vrydae (09hOO tot 18hOO); Saterdae (10hOO tot 13hOO) en Sondae (15hOO tot 18hOO) vir die publiek oop.

Steeds in Windhoek, en naby aan die Alte Feste is die imposante gebou van die Duitse Evangeliese Lutherse Kerk met die pragtige hoë toring wat ‘n pragtige baken vir die stad bied. Daar is ‘n tuin vol blombome en ‘n olyfboomlaning agter die kerk. ‘n Administratiewe gebou wat deur die Duitse bewind opgerig is, kyk oor die tuin uit. Dit staan bekend as die “Tintenpalast” (paleis van ink) en is steeds in gebruik. Daarlangs is ‘n moderne gebou wat opgerig is om die Wetgewende Gesag te huisves. Dit bevat talle kunswerke en ‘n pragtige muurbehangsel. Besoekers word op versoek op begeleide toere toegelaat. Agter die administratiewe geboue is ‘n klein wildspark.

Die kunsgalery, openbare galery, staatsmuseum, argiewe en die teater wat deur die Raad vir Uitvoerende Kunste van Namibië en ander vervaardigers gebruik word vir die uitvoer van dramas, ballet en opera, is in die middel van Windhoek en kyk op Leutwein-straat uit. Die biblioteek het ‘n uitstekende versameling boeke en tydskrifte, wat skaars werke wat oor die vroeë geskiedenis van hierdie gedeelte van Afrika gaan, insluit. Die staatsmuseum van Windhoek het sosiologiese en natuurwetenskaplike uitstallings en is Maandae tot Vrydae (09h00 tot 18h00), Saterdae (10h00 tot 13h00) en Sondae (15h00 tot 18h00) vir die publiek oop.
Buite die stasie van Windhoek word een van die nouspoor treine wat op die ou spoor na Swakopmund geloop het, uitgestal. Naby hierdie lokomotief is daar ‘n tuin en monument wat diegene wat in die 1916-rebellie deur Hoofman Mandume en ‘n gedeelte van die Owambo-stam omgekom het, herdenk.

Nog ‘n gedenkteken in Windhoek is die Kruis van Opoffering, wat aan die suidelike punt van Leutwein-straat, teenoor die militêre begrafplaas, opgerig is. ‘n Tussenkerklike diens word elke jaar op 11 November hier gehou, en herdenk diegene wat aan albei kante van die twee Wêreldoorloë omgekom het. Die Oudstryders Gedenkteken in Bismarck-straat herdenk die Boere se Bittereinders, wat geweier het om die voorwaardes van die Vrede van Vereeniging wat aan die einde van die Anglo-Boere-Oorlog gesluit is, te aanvaar, en daarna uitgewyk het na Duits-Wes Afrika om Britse heerskappy te ontkom.

Voorstedelike Windhoek het talle pragtige huise en tuine. Op die heuwels bokant Heinitzburg-laan in die voorstad Klein Windhoek is daar drie interessante kasteelagtige huise wat in 1890, tydens die oorloë met die plaaslike inwoners, opgerig is.

Kaptein von Francois het ‘n ruwe fort op die terrein van die huidige Regeringshostel gebou. ‘n Tweede fort is op ‘n heuwel wat oor die vallei uitkyk, gebou. ‘n Argitek, ene Wilhelm Sander, het kort daarna in Windhoek aangekom en sy praktyk begin. Hy het talle van die geboue van die Duitse tydperk ontwerp, insluitend die bekende “Tintenpalast”.

Die forte wat deur Von Francois gebou is het die argitek aangegryp. Toe die oorlog verby is, het hy een van die verlate forte in die hande gekry en dit in ‘n prentjiemooi “ruïne” omskep, ‘n grap wat hy Sperlingslust (mossie se verlange) genoem het. Dit is deur Rudolf Moeller gekoop en in ‘n taverne met ‘n bierkamer met koepeldak omskep – vol vate heerlike koel bier.

In 1884, toe Goewerneur von Leutwein aan bewind gekom het, was die jong Graaf Schwerin sy privaat sekretaris. Hierdie jong edelman was mal oor die taverne, het dit toe gekoop en vir Sander opdrag gegee om dit as ‘n kasteel te voltooi. Hout is uit Duitsland ingevoer, en die voltooide produk is Schwerinburg genoem, na die eienaar. Met die talle tapisserieë, kiste en kristalkandelare het dit ‘n ware buitepos van Duitse aristokrasie in Afrika geword.

In 1908 het Sander ‘n tweede kasteel geskep wat ook deur Graaf Schwerin gekoop is. Die kasteel is Heinitzburg genoem, na sy vrou se nooiensvan. Die kasteel is op dieselfde heuwel as Schwerinburg gebou, maar net ‘n bietjie laer. Dit het ‘n kinderkamer ingesluit wat versier is met ‘n oulike vries van karakters uit kinderversies. Die Graaf het in een kasteel gebou en sy gesin in die ander een. ‘n Paadjie het die twee kastele met mekaar verbind. Hierdie paadjie is deurgetrap deur die spesiale boodskapper wat moes heen en weer om boodskappe oor te dra. Aan die onderpunt van die poort na Heinitzburg is ‘n eienaardige byekorf-agtige struktuur, met vensters vir oë en ‘n neus bokant ‘n mond wat as ingang dien.

In 1911 het Sander die derde kasteel in Windhoek as ‘n huis vir homself gebou en dit
Sanderburg genoem. Nes die ander twee kastele het dit nie ontbreek aan eienaardighede nie: ‘n skildery van ‘n kwaai bulhond is op die muur geverf, daar is pilare wat geen nut het nie, en ook talle nuttelose hoekies en torinkies met kamers waarby ‘n mens nie kan uitkom nie. Dit het ook woonkamers met asemrowende uitsigte oor die uitgestrekte heuwels en berge wat Windhoek omring.

Voorstede van Windhoek soos Avis, Khomasdal en Pionierspark is woongebiede. Eros (vernoem na ‘n vrugtedraende struik wat daar voorkom) is ‘n ligte industriële gebied en ‘n plek waar ‘n lughawe vir private en ligte vliegtuie gebou is. Ausspannplatz (“uitspanplek”) was die oorspronklike hoofpos waar ossewaens uitgespan is. Die Windhoek Internasionale Lughawe is op ‘n plek met die vreemde naam oNdekaremba (“die vlieg op die koei”) gebou. Die naam van die industriële en woongebied wat oorspronklik vir swart inwoners geboue is, is Katutura (“die plek waarvan ons nie hou om te bly nie”).

Windhoek is ‘n skoon, gesonde en geordende stad. Die een groot nadeel is dat water min is – die reënval is sporadies. Die winkels is goed toegerus met die noodsaaklikhede en ook luukshede. Toeriste sal die winkeltjies wat halfedelstene en aandenkings verkoop, baie goed vind. Pelswinkels is goed voorsien van plaaslike karakoelvelle. Boek- en fotografie-winkels is van ‘n hoë standaard. Vleis is goed, maar die brood redelik vaal terwyl vrugte en suiwelprodukte hoofsaaklik van Suid-Afrika ingevoer word.

Daar is ‘n paar goeie restaurante, maar dit is moeilik om tradisionele Duitse kookkuns te kry. Plaaslik-vervaardigde sjokolade is heerlik.
Vermaak is maar aan die skraal kant, soos wat ‘n mens van ‘n klein stad sal verwag. Daar is darem ‘n paar hoogtepunte, veral gedurende die laaste week van April, eerste week van Mei en die eerste week van Oktober. Dan is dit karnavaltyd in Windhoek wanneer maskerballe, algemene jollifikasie en optogte plaasvind en baie, baie bier gedrink word.

Die tydperk van April tot Mei is veral baie aangenaam. Die reën is verby, die veld is groen en die lug koel. Januarie is die warmste maand. Windhoek se hoogte bo seespieël sorg egter daarvoor dat dit nooit te warm word nie, en daar is geen vogtigheid nie. Die maksimum somertemperatuur is 36°C en daar val jaarlikse ‘n gemiddelde 360 mm reën.

Windhoek is aangenaam om tydens alle seisoene te besoek, met ‘n unieke landskap, atmosfeer en aktiwiteite. Daarby moet ‘n mens beslis ook die kosmopolitiese mense in die strate voeg – vrouens in gesofistikeerde moderne style speel gereeld tweede viool teenoor majestueuse Herero-dames wat in kleurvolle “Sendelingsvrou”-uitrustings uit die vorige eeu pryk. Hulle beweeg op ‘n statige manier wat deels die gevolg is van hul gewig, en deels die gevolg van ‘n gewoonte uit die verlede waar swaar enkelbande wat toe die mode was, hul bewegings bemoeilik het.

Vandag is Windhoek ‘n lewendige stad met twee internasionale lughawens en ‘n aantal uitstekende hotelle, lodges en ander akkommodasie.
Die Windhoek Country Club was Namibië se eerste vyfsterhotel. Hierdie pragtige hotel en casino is aan die buitewyke van Windhoek en is omring deur pragtige tuine en ‘n 18-putjie gholfbaan. Die Windhoek Country Club het ook ‘n casino.
Die Safari Hotel is naby aan Windhoek Eros Lughawe. Hierdie hotelkompleks het drie verskillende hotelle, van 3-ster tot 4-ster verblyf. Die Safari Hotel is sonder twyfel Windhoek se gewildste konferensielokaal.
Kubata Lodge is in die voorstad Eros naby Joe's Beerhouse.

Die gewildste selfsorg-akkommodasie in Windhoek is suid van die stad. Arebbush Lodge verskaf uitstekende selfsorg-akkommodasie naby aan die suidelike ingang van die stad. Monteiro Lodge is bykans 10 km suid van Windhoek en verskaf goeie akkommodasie teen baie redelike tariewe. Daan Viljoen Natuurreservaat is aan die westekant van Windhoek.

 

ANDER MOONTLIKHEDE IN NAMIBIE

Windhoek is in die middel van Namibie en maak die hele land vir jou oop - Noord, Suid, Oos of Wes. In die noorde is Mazambala Lodge in die Caprivi 'n woderlike lodge op 'n eiland en as jy wes wil ry kan die Stiltz aanbeveel word.

BOTSWANA LODGES

As jy liewer in die rigting van Botswana wil ry is Cresta Lodge in Gaborone 'n goeie opsie en in die noorde lê Toro Lodge in Kazangula op die Choberivier. 'n Baie luukse opsie in die Chobe gebied is Mowana Lodge .

ZIMBABWE LODGES

Dit is ver van Windhoek na Zimbabwe, maar as jy vlieg na Harare kan jy die hele land besoek. Caribbea Bay Hotel is op die walle van die Karibameer in die noorde. As jy besluit om die wêreld bekende Hwange Reservaat te besoek kan jy gerus by Sikumi Tree Lodge oornag en as die Great Zimbabwe Monument meer na jou smaak is, is Great Zimbabwe Hotel 'n wonderlike keuse.

Windhoek Safari Hotel Monteiro Lodges